Monday, April 20, 2009

Hoekom Jy Vir die DA Moet Stem



Vanuit SA Vandag 17 April 2009

Gaan stem op Woensdag 22 April!

Elke enkele geregistreerde kieser wat die DA steun, moet op Woensdag in die verkiesing gaan stem. Elke stem is kritiek: dit kan die stem wees wat die skaal swaai. Die wiskunde is eenvoudig: hoe meer DA-kiesers in verhouding tot ANC-kiesers gaan stem, hoe beter is die kans dat ons sal sorg dat Jacob Zuma nie die meerderheid van twee derdes kry wat hy nodig het om die Grondwet te wysig nie.

Die opkoms van kiesers maak 'n geweldige verskil aan die verkiesingsuitslag in ons stelsel van proporsionele verteenwoordiging. Een politieke ontleder gebruik die analogie van 'n verjaardagpartytjie om die gevolge van opkomssyfers te verduidelik. Op jou verjaardag koop jy 'n koek en nooi tien mense na jou partytjie. As almal kom, kry elkeen een tiende van die koek. As net vyf kom, kry elkeen een vyfde. Dit beteken elkeen van die vyf vriende wat vir die partytjie opgedaag het, kry 'n stuk koek wat dubbel so groot is as wat hulle sou gekry het, net omdat die ander vyf weggebly het. Net so maak al die kiesers wat in 'n verkiesing stem, 100% van die verteenwoordigende getal uit, wat dan in verhouding onder die partye verdeel word. As meer DA-kiesers as ANC-kiesers wegbly, beteken dit dat die ANC-stem in verhouding groter word, en omgekeer.

In vorige verkiesings het die opkomsverhouding die ANC bevoordeel. Dit beteken dat meer ANC-kiesers as opposisiekiesers gaan stem het. Dit het hul getalle in verhouding opgestoot.

Die opkoms gaan op Woensdag deurslaggewend wees. Ons eie interne navorsing toon dat as elke DA-kieser gaan stem, en as meer DA-kiesers in verhouding tot ANC-kiesers opdaag, sal ons die ANC landswyd 'n meerderheid van twee derdes ontsê, en kan ons die ANC selfs tot minder as 60% beperk. In provinsies soos Gauteng en die Noord-Kaap, waar die ANC se greep op die mag die minste is, kan ons genoeg stemme kry om koalisieregerings te skep. As elke DA-kieser in die Wes-Kaap opdaag, kan ons die provinsie met 'n volstrekte meerderheid wen.

Die ANC is magshonger. Hy wil selfs meer as 'n tweederde-meerderheid hê. Op Woensdag het Julius Malema, die verspotte president van die ANC se Jeugliga, in een van sy tipiese fascistiese uitbarstings by die Universiteit van Kaapstad studente aangesê om die ANC "met 'n meerderheid van drie derdes" weer aan bewind te plaas. Hy het bloot nageaap wat Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, vroeër in die verkiesingsveldtog gesê het. Sy woorde was: "Ons wil nie 'n tweederde-meerderheid hê nie, ons wil in elke provinsie, met inbegrip van die Wes-Kaap, 'n driederde-meerderheid hê."

Malema glo Zuma is "onstuitbaar". Hy het Zuma 'n "biologiese tsoenami" genoem. Dis onsin. As elke DA-ondersteuner op 22 April gaan stem, kan ons verhoed dat die "biologiese tsoenami" verwoesting in Suid-Afrika saai.

Dit staan vas: as die ANC 'n meerderheid van twee derdes kry, met Zuma as President, gaan daar ernstige gevolge wees. Mnr. Zuma het geen begrip van konstitusionalisme nie, al is dit die rots waarop ons demokrasie gebou is. Hy het al dikwels gesê die ANC is belangriker as die Grondwet, dat opposisiepartye geen outomatiese bestaansreg het nie, en dat die magte van die Konstitusionele Hof hersien moet word omdat die regters "nie God" is nie. Zuma is die soort leier wat 'n regering op die pad na baantjies vir boeties, korrupsie en kriminalisering plaas - die pad wat uiteindelik in 'n mislukte staat uitloop. Ons het reeds die bewyse hiervan gesien.

Tot dusver het die heerserskliek in die ANC die Skerpioene ontbind, Vusi Pikoli, die vorige nasionale Direkteur van Openbare Vervolgings (NDOV), ontslaan, die vroegtydige vrylating van Zuma se weldoener, Schabir Shaik, uit die tronk bewimpel, en druk op Mokotedi Mpshe, die waarnemende NDOV, geplaas om aanklagte teen Zuma te laat vaar. Al dié stappe is gedoen om Zuma en sy kliek te beskerm.

Dit is dus duidelik dat niks Zuma sal stuit om die Grondwet en die oppergesag van die reg te ondermyn om homself en sy kliek te verryk en hulle teen vervolging te beskerm nie.

Gister het die Kabinet aangekondig dat hy die konsep van 'n Wysigingswet op die 17de Wysiging van die Grondwet goedgekeur het. Dit sal die nasionale regering in staat stel om plaaslike regerings se magte oor te neem. Dié Wetsontwerp sal nou na die Parlement toe gaan, en as die ANC op 22 April 'n meerderheid van twee derdes kry, sal hy die Wetsontwerp in die Parlement deurdruk. As dit bekragtig word, sal die ANC die wet inspan om die mandaat van 'n verkose plaaslike owerheid sterk aan bande te lê, veral waar die ANC nié regeer nie, en waar plaaslike owerhede heel tereg weier om ANC-beleid in te stel. Die Kabinet se goedkeuring van die wetsontwerp kom twee dae nadat ANC-woordvoerders uitdruklik ontken het dat só 'n wetsontwerp bestaan.

'n Meerderheid van twee derdes sal die ANC die mag gee om ander dreigemente uit te voer. Die ANC het reeds gedreig om eiendomsregte terug te trek, persvryheid te ondermyn en te sorg dat die howe bloot 'n uitbreiding van die ANC word - net soos grondwet-instellings soos die Openbare Beskermer en die Nasionale Vervolgingsgesag reeds deur kaderontplooiing uitbreidings van die ANC geword het.

Landswyd is die DA die enigste party wat 'n mens kan vertrou om te sorg dat Zuma se kliek sy mag nie misbruik om die Grondwet te wysig nie. Ons ding egter nie net nasionaal in hierdie verkiesing mee nie. Ons neem ook in al nege provinsies deel. Daar is 'n uitstekende kans dat ons die Wes-Kaap sal verower, en daar is ook 'n moontlikheid dat ons in een of twee ander provinsies koalisieregerings sal kan skep.

Ons moet op provinsiale vlak die mag in hande kry, want dan sal ons kan bewys watter verskil ons alternatiewe visie, beginsels en beleid in die praktyk vir almal maak, net soos ons dit bewys het waar ons op die vlak van plaaslike regering gewen het. Dit is die doeltreffendste rol wat ons kan speel, nie net waar ons aan die stuur staan nie, maar vir die hele land, terwyl ons die proses van nasionale politieke herrangskikking deurvoer.

As ons in die Wes-Kaap wen, sal ons byvoorbeeld kan bewys wat samewerkende regering tussen plaaslike owerhede en 'n provinsie kan bereik. Albei regeringsfere is op talle manier nóú verweef, en ons kan uitsonderlike resultate bereik as ons almal dieselfde kant toe beur, in plaas van in teenoorgestelde rigtings.

As ons op provinsiale vlak die mag in hande kry, beteken dit ook ons kan die volgende stap op die pad van ons politieke reis neem. Dié reis het in 2006 begin toe die DA in die Stad Kaapstad en ander plaaslike owerhede in die Wes-Kaap aan bewind gekom het. Ons reis sal ná 22 April voortduur, want dan gaan ons vir die plaaslike verkiesings van 2011 voorberei. In dié verkiesings gaan ons stede en dorpe orals in Suid-Afrika verower. As die laaste been van dié reis sal ons in 2014 die kern van die nasionale regering uitmaak.

Ons kan sonder jou stem op Woensdag dié reis nie voortsit nie. Ons sal nie die nodige verbande kan lê om ons eindbestemming te bereik nie. En as die ANC 'n meerderheid van twee derdes kry, sal hy elke moontlike struikelblok in ons pad plaas om ons te ontspoor.

Die belangrikste verkiesing in Zimbabwe was nie verlede jaar, toe die MDC meer stemme as Mugabe se Zanu-PF gekry het nie, al is die verkiesing blatante bekook. Dit was in 2000, toe die MDC net-net met 1% van die stemme teen Zanu-PF verloor het. As elke enkele MDC-ondersteuner in daardie verkiesing gaan stem het, sou Zimbabwe se rampspoedige agteruitgang miskien nie gebeur het nie. Zimbabwe sou vandag bes moontlik die welvarende nasie van weleer gewees het, in plaas van die mislukte staat van die hede.

Dit is die verskil wat jou stem kan maak. Dit is die verskil tussen sukses en mislukking. Dié verkiesing gaan 'n keerpunt in Suid-Afrika se geskiedenis wees. Dit is trouens die belangrikste verkiesing ná 1994, want ons keuse gaan bepaal of die land 'n suksesvolle demokrasie word (en dit is verloklik binne ons bereik), of die afwaartse spiraal na 'n mislukte staat gaan voortsit.

In 'n demokrasie kry die kiesers die regering wat hulle verdien. Suid-Afrika se toekoms lê komende Woensdag in die hande van elke individuele kieser. Een stem kan 'n oorwinning beteken, of 'n nederlaag. Tien jaar van nou af gaan dit vir almal klinkklaar wees dat dit in dié verkiesing reg was om vir die DA te stem. Maar dan gaan dit te laat wees. Doen dit dus nóú.


No comments: