Wednesday, August 18, 2010

BUSDIENS SE WIELE VAL AF

ARTIKEL IN TSHWANE BEELD

Sylvia van Zyl

Die Tshwane-busdiens se wiele het in so mate afgeval dat hy heeltemal in duie kan stort as daar nie dringend ingegryp word nie.

Dit is die mening van mnr. Justus de Goede, DA-raadslid en ’n lid van Tshwane se portefeuljekomitee vir vervoer.

“Dié busdiens het verval in die hande van ’n paar amptenare.

“Nou trek almal net skouers op en sê dis nie hul probleem nie.”

Volgens De Goede was daar sedert die begin van die jaar reeds drie amptelike stakings by dié busdiens.

“Dit is elke keer gestremdes, bejaardes en kinders wat geraak word. Dit is absoluut onaanvaarbaar.

“Hoe kon die Tshwane-metroraad sonder enige kennisgewing nuwe tariewe en ’n nuwe struktuur vir buskaartjies instel?”

Volgens hom is daar mense wat jaarkaartjies gekoop het vir dié busdiens, maar sedert 1 Julie is dié kaartjies skielik nie meer geldig nie.

“Hierdie mense kan dit eenvoudig net nie bekostig nie. Ek het al op 18 Julie vir dr. Gwen Ramo- kgopa (uitvoerende burgemeester) ’n brief geskryf en gevra of ons asseblief kan vergader om al die probleme uit te sorteer, maar daar het niks van gekom nie.

“Volgens die metroraad is die nuwe bustariewe in sy begroting en hy het dit lank terug al aan die publiek oorgedra, maar hy kan geen bewyse hiervan lewer nie.”

De Goede het ook ’n tweede brief aan die burgemeester gestuur, maar het weer geen terugvoering gekry nie.

“Die situasie het nou breekpunt bereik. Die busdiens is in gedrang en ek is bevrees as hy eers stop, is daar nie weer geld om hom aan die gang te kry nie.”

Volgens De Goede beplan die DA om ’n mosie ter tafel te lê op die volgende raadsvergadering, wat volgende Donderdag gehou word.

“Ons wil vra dat al die senior amptenare en ander rolspelers om ’n tafel sit sodat ons ’n oplossing vir dié probleem kan kry.

As dit nie werk nie, het ons geen ander opsie as om die openbare beskermer te nader nie.”

Volgens mnr. Francois Bekker, DA-raadslid, is die nuwe kaartjiestelsel nie net baie duur nie, maar ook rigied.

“Mense wat beter tariewe nodig het, betaal nou duurder. Ek is baie teleurgesteld in die burgemeesterskomiteelid vir vervoer se onbetrokkenheid by dié saak.

“Ons weet daar moet verhogings kom, maar daar was nog nooit ’n geleentheid om op ’n portefeuljekomiteevergadering oor die saak te praat nie.”

Daar word verneem dat net ses van die raad se portefeuljekomitees die afgelope maand vergader het.

Die res is sonder waarskuwing gekanselleer.

“Dit is niks anders as dwarsboming van ons demokrasie nie. Ons sit met ’n hardvogtige raad wat nie meer vir sy mense omgee nie,” sê Bekker.

Die Tshwane-metroraad kon teen druktyd nie kommentaar lewer nie.

No comments: