Friday, August 13, 2010

TSHWANE RAAD SE WIELE BESIG OM AF TE VAL

Uitgereik deur Rdl. Janho Engelbrecht

Die Tshwane Raad se administrasie is besig om tot stilstand te kom. Van die tien Artikel 80 Portefeulje komitees het slegs ses hierdie maand vergadering gehou. Twee hiervan het slegs verslae vir kennisname bespreek, so geen besluite is geneem nie. Dit volg op verlede maand se Raadsvergadering wat "uitgestel” is om gelyktydig met hierdie maand se vergadering plaas te vind. (Soos die Speaker se kantoor dit gestel het).

Die toedrag van sake is skokkend! Die munisipaliteit verkeer onder geweldige druk in terme van gebrekkige dienslewering, nou word vergaderings links en regs gekanseleer of as vergaderings wel plaasvind, handel dit oor ou verlae wat slegs vir kennisname dien. Indien daar nie besluite op Portefeulje vergaderings geneem word nie kan verslae nie na die Raad gaan vir goedkeuring nie. So beskou is dinge besig om tot stilstand te kom.

Dit is asof die raad rigtingloos voort ploeter, daar is 'n gebrek aan leierskap. Die ANC binnegevegte is besig om die dag-tot-dag bestuur van die Munisipliteit tot so 'n mate te benadeel dat dit lyk asof amptenare nie meer weet wat om te doen of vir wie om te luister nie. 'n Nuwe tendens van die ANC is ook om deesdae omstrede items nie na Portefeulje Komitees te verwys nie, maar dit direk na die Burgemeesterskomitee te stuur vir goedkeuring. Die gevolg hiervan is dat Raadslede nie die verlae onder oë kan neem nie, wat natuurlik die oorsig rol wat hulle moet vervul beperk. Dit is tekenend van 'n organisasie wat in krisis verkeer. Items wat direk deur die Burgemeesterskomitee gaan, oorskadu ander items veelvoudig.

Hierdie Raad bevind homself in 'n benarde posisie en daar blyk nie lig in die tonnel te wees nie. Die DA sal hierdie kwessie met die LUK vir Plaaslike Regering in die Gauteng Wetgewer opneem.

No comments: