Monday, September 15, 2008

Die Zuma-uitspraak - Wat Nou?


SA Vandag - Die Weeklikse Nuusbrief deur Helen Zille, Leier van die DA


Die DA is ’n party wat die oppergesag van die reg en die Grondwet sterk steun, en respekteer dus die uitspraak in die Pietermaritzburgse Hoërhof om – op grond van ’n regstegniese punt – die besluit om Jacob Zuma weens bedrog en korrupsie te vervolg, tersyde te stel. Die Hof se uitspraak was daarop gegrond dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) Zuma nie toegelaat het om vertoë te rig voordat hy besluit het om die aanklagte teen hom weer in te stel nie. Kragtens die Grondwet moes hy dit gedoen het.
’n Onvoorsiene gevolg van die uitspraak is dat sommige van Zuma se ondersteuners dalk die gevolgtrekking sal maak dat hul intimiderende en gewelddadige optrede die regter se beslissing beïnvloed het. Hulle moet verstaan dat hul gedrag hoegenaamd geen invloed op die uitspraak gehad het nie. Hulle moet ook verstaan dat die uitspraak Zuma nie van enige skuld onthef nie.
Dit is belangrik dat regter Nicholson beklemtoon het dat die uitspraak geen oordeel oor Zuma se skuld of onskuld inhou nie. Dit beteken ons weet nog steeds nie of Zuma ten opsigte van die aanklagte van korrupsie teen hom skuldig of onskuldig is nie. Die DA sal sy bes doen om dié kwessie tot ’n spits te dryf.
Dit is waarom die DA sy beroep op ’n volle regterlike kommissie van ondersoek na die wapentransaksie, met 'n oudregter wat deur die Hoofregter benoem word aan die hoof daarvan, herhaal. Ons moet die waarheid vasstel, en geregtigheid moet seëvier. Niemand wat by die wapentransaksie-korrupsie betrek word, moet aan ’n behoorlike regsproses ontsnap nie.
Ons het ook gevra dat die Parlement ontbind moet word, en dat ’n verkiesing uitgeroep moet word weens regter Nicholson se verklaring dat hy “nie oortuig is dat die aansoeker (Zuma) verkeerd was om aan te voer dat daar politieke inmengery by sy vervolging was nie”. Daar is nog verklarings in die uitspraak wat ’n mens maar net kan laat aflei dat staatsinstellings in pres. Mbeki se ampstermyn vir politieke doeleindes misbruik is terwyl faksies om beheer gebots het.
Dit beteken dat Mbeki, en smouse van mag wat aan hom verbonde was, die Grondwet ondermyn het. Dit is onhoudbaar dat hy in sulke omstandighede steeds die President kan wees.
Die ontbinding van die Parlement sal egter ’n ewe onhoudbare situasie skep, want dit sal bloot die weg vir Zuma baan om president te word terwyl daar steeds ’n donker wolk bo sy kop hang. Kiesers kan in sulke omstandighede geen ingeligte keuse maak nie.
Die faksiegevegte binne-in die ANC, en die regerende party se misbruik van die Grondwet, beteken dat Suid-Afrika tussen twee meulstene vasgevang is.
Dit is waarom twee dinge in belang van die land moet gebeur: Mbeki moet as President bedank, en Zuma moet hom as Presidentskandidaat onttrek totdat hy in ’n hof verhoor is en sy skuld of onskuld bewys het. Suid-Afrika sal steeds deur die onafgehandelde gevolge van die wapentransaksieskandaal gerem word totdat dié mans die land se belange voor hul eie plaas.
Die positiewe sy van die uitspraak is dat dit eise deur Zuma se ondersteuners vir ’n politieke eerder as ’n regsoplossing tot niet maak. ’n Politieke oplossing sou baie ernstige gevolge vir die toekoms van ons konstitusionele demokrasie gehad het, want dit sou ’n beskuldige op grond van sy politieke status bo die wet geplaas het. Die kwessie van ’n politieke oplossing kan nie weer opgediep word nie, al besluit die NVG om teen die Hoërhof se uitspraak appèl aan te teken.
Die uitspraak bewys ook aan Zuma se ondersteuners, as hulle enige bewyse nodig gehad het, dat die regbank onpartydig is en aan die hand van die reg uitsprake lewer. Hulle moet nou hul respek vir die regbank bewys wanneer uitsprake nie hul politieke voorkeure weerspieël nie. As Zuma sy dag in die hof beleef, en ons glo dít is in die land se belang, sal sy ondersteuners geen rede hê om te glo dat hy nié ’n regverdige verhoor sal beleef nie.
Ons regbank het bewys dat hy nie aan magsmisbruik aandadig sal wees nie. Die Konstitusionele Hof se geding teen regter Hlope toon dit, net soos die uitspraak van twee weke gelede dat die Erasmus-kommissie van Ondersoek onwettig en ongrondwetlik was.
Ek het reeds oor die belangrikheid van daardie uitspraak vir konstitusionele demokrasie uitgewei, en gaan my nie hier herhaal nie, behalwe om te sê dat daardie uitspraak my weer hoop vir ons land se toekoms gegee het. Dit het bewys dat die Grondwet met welslae teen die ANC se magsmisbruik verdedig kan word, en dat die howe sterk genoeg is om sulke misbruike in toom te hou.
Dit skep ’n belangrike voorbeeld vir die toekoms, en bewys ook dat die regbank as instelling hom nie deur magtige politici laat beïnvloed nie. Instellings maak die kern van ’n konstitusionele demokrasie uit: daarsonder verkrummel die hele bouwerk.
Terwyl ons vorentoe beweeg, moet alle Suid-Afrikaners – ook Zuma se ondersteuners – moed skep omdat ons ’n sterk en onpartydige regbank het. Dit gee ons hoop vir die toekoms.


Gaan na www.da.org.za om gratis vir hierdie e-nuusbrief in te skryf.

No comments: