Monday, April 21, 2008

DA Sê NEE VIR CHIRURG AS ADVISEUR VIR PLEK- EN STRAATNAME


MEDIAVERKLARING DEUR RDL. DANIE ERASMUS, DA WOORDVOERDER OOR OPENBARE PLEK- EN STRAATNAME

20 April 2008. GEEN EMBARGO

Die komitee vir Plek en Straatname het die afgelope Vrydag besluit om ‘n paneel van buite adviseurs aan te stel om soos dit gestel word “die proses van straat naam goedkeuring en die behaling van strategiese doelwitte te bespoedig”.

Dié saak het reeds voor die komitee op 15 Februarie 2008 gedien. Weens ‘n onvolledige verslag en die weglating van kwalifikasies van die kandidate en ‘n aanbeveling wat die DA nie gepas het, dat die komitee geen onderhoude met die kandidate gevoer het m.b.t. kundigheid en kwalifikasies nie.

Toe die ANC besluit het om die saak terug te verwys het die DA versoek om ook die onderhoud sessie by te woon ter wille van goeie regering en deursigtigheid en het versoek dat die aanbeveling heroorweeg word om twee kandidate in te sluit nl. Mnr Sakkie Kotze en prof. Frans-Johan Pretorius. Die besluit was nie vir die ANC aanvaarbaar nie en het ‘n amendement aanvaar dat die voorsitter, rdl. Segabutla sy diskresie kon gebruik om lede van ander partye vir dié doel uit te nooi.

Volgens die verslag is onderhoude met die kandidate op 19 Februarie gevoer sonder dat die voorsitter sy diskresie uitgevoer het. By nadere ondersoek blyk dit dat die kandidate onder die valse indruk gebring is dat hulle reeds aangestel is en dat hulle op 19 Februarie 2008 hulle eerste vergadering bygewoon het.

Die tien kandidate is:
Dr Michiel Durand
Anton Jansen
Dr André Horn
George Khomo
Malaka Mahlatsi
Mpho Mbokazi
Mashite Mogale
Brig. Gen. dr. Johan Pickard
Dr Dioné Prinsloo
Willem Punt

Rdl. Danie Erasmus, die DA woordvoerder oor Openbare Plek- en Straatname het die ANC gekritiseer om sonder ander partye die onderhoude te hou en het aangedui dat die DA nie die kandidate op papier kan beoordeel met weglating van kundigheid en kwalifikasies, soos die aanbeveling gedoen is nie.

Hy het die voorsitter gevra waarom die ANC so gretig is om dr Michiel Durand, ‘n chirurg aan te stel en prof. Frans-Johan Pretorius, ‘n wêreld bekende historikus oor die hoof gesien is. Laasgenoemde is wêreld bekend vir sy navorsing oor Suid-Afrikaanse geskiedenis en die Engelse oorlog. Hy het vandag (Sondag) deelgeneem aan ‘n uur lange program van die Ierse Nasionale Radio oor die Engelse oorlog. Die feit dat dr. Durand nie eers die moeite gedoen het om die onderhoud / vergadering by te woon nie, dui daarop dat hy òf seker is van dié aanstelling òf dat hy as chirurg te besig is in praktyk en dit reeds die aanduiding is dat hy nie die metro se “proses en behaling van strategiese doelwitte sal bespoedig” nie. Die voorsitter, rdl. Segabutla het hom verweer deur te sê dat hy net dit onder die aandag van kandidate wou bring dat hulle as adviseurs nie vir die taak vergoed sal word nie. Slegs die komitee kan die paneel kan aanstel en elke lid moet daardie voorreg gegun word. Die DA het ‘n voorstel van die VF+ gesekondeer dat Dr Durand met prof Pretorius vervang word. Dié amendement is afgestem en die paneel is aanvaar met teëstem van die DA en ander partye. Dit is jammer dat die wysheid van ‘n historikus moes sneuwel voor die van ‘n chirurg.

“Ek het niks teen dr Durand nie. Hy mag waarskynlik ‘n belangstelling hê in plek- en straatname. Die DA sal onverantwoordelik wees om kandidate goed te keur sonder ‘n onderhoud, volledige verslag van elke kandidaat se kwalifikasies, belangstellings en vorige ondervinding. Ek sou ‘n onreg pleeg teenoor die kiesers van die stad om ‘n chirurg as adviseur vir dié doel aan te stel en dan kundige persone soos prof. Pretorius en mnr. Sakkie Kotze oor die hoof te sien. Al rede waaraan ek kan dink waarom die ANC Durand wil aanstel is om gebiede tans sonder straatname na medici en mediese terme te benoem en sy advies te vra oor Röntgen, Colon, Alzheimer, Pinset, Langerhans, Voltaren, Appendix ens.”, het Erasmus gesê

Rld Danie J. Erasmus
DA woordvoerder: Openbare Plek- en Straatname.
Selfoon: 082 373 7760.

No comments: