Friday, April 11, 2008

Sal Mugabe Steeds Toegejuig Word?


GROEIENDE GETY
Nr. 12/08
‘n Weeklikse e-pos brief deur Jack Bloom, DA Leier in die Gauteng Provinsiale Wetgewer
7 April 2008


Toe Zimbabwe se President, Robert Mugabe, die tweede inhuldiging van President Thabo Mbeki bygewoon het in April 2004, is hy staande toegejuig.

Dit verduidelik waarom Mbeki so lank vir Mugabe vertroetel het – hy geniet sterk plaaslike steun, veral onder belangrike ANC besluitnemers.

Dit kan nouliks buitelandse beleid genoem word, aangesien dit so ‘n groot binnelandse impak het met die hordes immigrante wat vanaf Zimbabwe se rampspoedige ekonomie gevlug het.

Die Centre for Development and Enterprise (CDE) het onlangs beweer dat die sogenaamde 3 miljoen Zimbabwiërs in Suid-Afrika waarskynlik nader is aan 800 000 tot 1 miljoen.

Dit is steeds aansienlik baie, en ‘n groot gedeelte van hulle is in Gauteng. Heelwat bly in Johannesburg se middestad, en ek het al heelwat Zimbabwiërs wat hulp kom soek ontvang in my kantoor by die Wetgewer.

Meeste het beweer om verbind te wees aan die MDC-opposisie, en hulle het tragiese verhale vertel. Een aktivis het gepraat oor die marteling wat gemaak het dat hy nie meer kinders kan hê nie. Hy wou ‘n gewapende stryd begin, en dit het my getref dat ANC-uitgewekenes soortgelyke stories moes gehad het, maar nou hulself doof hou vir hul bure se nood.

Al my besoekers het vir Mbeki verpes omdat hy kop in een mus met Mugabe was. Daar is al baie gepraat oor die onderworpenheid van Zimbabwiërs wat nie opstaan en baklei teen die onderdrukking nie. Ek dink hierdie houding onderskat hoe ontmoedigend Mbeki se ondersteuning vir Mugabe vir hulle moet wees. Swart Suid-Afrikaners was immers onderskraag deur steun uit die res van Afrika en talle oorsese veldtogte gedurende hulle stryd.

So onlangs soos Maart laasjaar het Mugabe die grootste toejuiging ontvang by Ghana se viering van 50 jaar van onafhanklikheid.

Dis nogal treffend om te sien hoeveel van dieselfde argumente Zanu-PF as die ANC gebruik om hulle regering te regverdig, ten spyte van al die korrupsie en onbekwaamheid. Die DA word byvoorbeeld gereeld vertel dat ons slegs in parlement sit omdat die ANC die land bevry het.

Die ANC deel met Mugabe die oortuiging dat ‘n bevrydingsbeweging geregverdig is om nimmereindigend aan bewind te bly, soos Jacob Zuma wat opgemerk het dat die ANC sal regeer “totdat Jesus terugkeer”.

Daar is seker ANC-lede wat jaloers is dat Mugabe baie van die dinge gedoen het wat hulle graag sou wou, soos plase oorneem, maar hulle word beperk deur die Grondwet en ekonomiese realiteite.

Daar is ook ander ooreenkomste, soos die vervaging tussen party en staat, en die voordele wat sekeres met politieke bande ontvang in die naam van transformasie.

John Kane-Berman van die SA Institute for Race Relations het gewaarsku dat die post-Polokwane ANC poog om besluitneming te sentraliseer na ‘n politburo van die 87 lede van die Nasionale Uitvoerdende Komitee, wat die Grondwet sal ondermyn en parlement behandel soos ‘n rubberstempel.

Daar is gelukkig teenstrydige faktore in Suid-Afrika, soos selfstandig-denkende lede van die ANC en ‘n sterk burgerlike samelewing.

Ons leer ook belangrike lesse van Zimbabwe aangaande die rampspoedige gevolge van ‘n een-party regering, populistiese prysbeheer en roekelose druk van geld. Sal Mugabe steeds toegejuig word as hy ‘n geleentheid in Suid-Afrika bywoon?

Ek vermoed dat die ANC Mugabe staande gehou het omdat hulle vrees dat die mense hier iets sal leer deur te sien hoe ‘n bevrydingsbeweging omver gewerp word.

Die sielkundige effek kan enorm wees as kiesers eers besef dat hulle die ANC kan straf vir fiasko’s soos Eskom se kragonderbrekings, deur bloot te stem vir ‘n ander party.

Dit sal ‘n deurslaggewende ontwikkeling in ons demokrasie wees, en die identiteit-gebaseerde politiek transformeer na ‘n werklike kragmeting, waar dit beleid en werkverrigting is wat saak maak.

No comments: